Kleuter van die week ... Jocelyn Cloete Featured

Jocelyn se mamma, Jessica, vertel vir ons meer oor hierdie skattige eenjarige.

Jocelyn is op 39 weke gebore en het 3.8kg geweeg. Sy is nou baie energiek en vreeslik nuuskierig.

Ons het verlede jaar September haar eerste verjaardag gevier. Haar sussie het toe drie jaar oud geword en ons het die partytjies sommer saam gehou by ’n kwekery. Die klomp kinders het dit vreeslik baie geniet. Hulle was vuil van hulle kroontjies tot hulle toontjies.

Op hoeveel maande het sy begin loop?

Jocelyn het op tien maande en 20 dae begin loop. Haar sesjarige niggie het by haar kom speel die dag wat sy begin loop het. Die tweetjies het so lekker gespeel en gelag, dat Jocelyn van opgewondenheid sommer begin loop het.

Wat is haar gunsteling-kos?

Sy is nie vol fiemies nie. Sy eet eintlik enigiets wat ek vir haar voorsit, maar haar gunsteling is beslis noedels.

Is Jocelyn erg oor haar bottel en dummy?

Ja, sy is baie erg oor haar bottel wanneer dit kom by slaaptyd. Al wanneer sy aan haar dummy suig, is as sy nog nie aan die slaap is teen die tyd wat sy haar bottel klaar gedrink het nie.

Het sy 'n spesiale speelding of kombersie?

Die pop wat ons Kersfees vir haar gekoop het, is nou haar spesiale speelding. Voorheen het sy ’n kombersie gehad wat sy oral heen saamgesleep het. Dit was omtrent ’n stryd wanneer ek die kombersie wou was, soos wat sy aan hom geklou het. Maar vandat sy die poppie het, het sy die kombersie effens eenkant toe geskuif.

Waar slaap sy?

Ons is gelukkig dat sy al in haar eie kamer op haar eie bed wil slaap.

Wat laat haar lekker lag?

Wanneer sy gekielie word in haar ribbes. Sy lag ook lekker wanneer sy rondgejaag word in die huis en skrikgemaak word deur iemand wat agter ’n deur uitspring.

Wat doen sy wat vir jou baie oulik is?

Sjoe! Daar is eintlik te veel om op te noem. Sy praat in haar slaap, baie duideliker as wanneer sy wakker is. Wanneer ons in die oggende moet skool toe ry, vat sy haar sussie se tas vir haar, dis so kosbaar. Haar glimlaggie met haar stoute ogies is baie oulik. Sy gebruik ook daai ogies as haar “get out of jail ticket”. – Alta van Wyk

 

Read 251 times
Don't have an account yet? Register Now!

Sign in to your account