Milan Murray oor ouerskap....#moomieceleb Featured

Milan Murray is 'n skrywer, aktrise en mamma van twee. Sy deel haar ouerskapsraad met ons.

Nuwe ouderdom, nuwe fases, so is dit maar met elke kind. Milan se twee kinders, agt en 10 jaar oud is darem al oor die "kleuter-peuter-tantrum" fase maar ook nog 'n ent weg van die tiener-staduim.

Sy deel met ons haar ouerskapsonderving en gee ook alledaagse raad vir ander ma's.

Met jou kinders al bietjie ouer, is jy seker bly die "tantrum-staduim" is verby. Watse raad het jy vir ouers oor woede buie van hul kleuters in die publiek? 

"Soveel ouers as wat daar is, soveel opinies is daar oor kind-grootmaak! En alles werk beslis nie vir almal nie.  Glo my, ek weet.  Ek was 'n 'skree'-Mamma. Ek was raadop met ongehoorsaamheid en wou my polse sny oor my eie onvermoë om vrede in my huis te handhaaf.  Ek het pretty much elke boek op die rak gelees. Ek is egter oortuig dat die beginsels in die boek ‘Have a new kid by Friday’ (Dr Kevin Leman) in elke gesin suksesvol geimplimenteer kan word, mits albei ouers uit een mond praat.  Ek het opgehou skree. Kan jy glo? En ek praat regtig net een keer. Ek is kalm. En ék is in beheer, nie my kind nie.  Soos in elke boek is daar dele wat ek vat en dele wat ek los. Elke ouer maak mos maar die inhoud sy eie. Maar hierdie boek het 'n groot verskil gemaak in my ouerskap."

Watter metode van dissipliene werk vir jou kinders?

"Ek is gekant teen enige vorm van lyfstraf. Juis daarom werk die boek 'Have a new kid by Friday' se beginsels so goed vir ons gesin. Gevolge vir ongehoorsaamheid sluit in beperking op enige iets wat vir daardie kind 'n lekkerte is, soos bv. nagereg, speel by maatjies of ‘screen-time’. Die straf het ook baie keer te doen met die aktiwiteit waarmee ons tans besig is bv. my dogter het in 'n restaurant haar eetgerei gegooi. Haar straf was geen melkskommel. My seun het uit woede 'n kind op die sportveld seergemaak. Sy straf was geen wedstryd volgende week."

Ma's is soms uit idees uit oor wat om in die kinders se kosblikke te sit, het jy dalk enige oulike idees om met hulle te deel?

"O jinne. Soveel kinders, soveel smake!  Ek het taamlik gou vir my kinders geleer van die vyf voedselgroepe. En hulle weet dat ek my bes doen om al vyf in te sluit in hulle kosblik.:

Stysel  - toebroodjie

Suiwel – Kaas op toebroodjie of yogurt (onthou die teelepel!)

Vrugte – Druiwe is maklik. My seun is nie mal oor vars vrugte nie, so hy kry vrugterol

Vleis – aan die begin van die maand is daar geld vir droë wors, maar later moet hulle met ham tevrede wees

Olie/Vette – Botter op brood of gebakte beskuitjies soos Cheddars.

Twee keer 'n week kry my kinders ook 'n bederf in hulle kosblik. Hulle hou van Oreo-koekies  of lunch bars. My reël is dat die gesonde kos eerste geëet moet word. As jou kosblik terugkom sonder die Oreos, maar jy het nie aan jou vrugte geraak nie, mis jy uit op jou volgende kosblik bederf!

Net 'n nota hier – my seun en dogter verskil baie. Hy soek kos wat hy vinnig in die hand kan gryp en eet dan in die hardloop oppad speelterrein toe – Hy wil SPEEL! My dogter hou weer van interessante verskeidenheid. En 'n briefie in haar kosblik of 'n broodjie met ‘n blom-vormige koekdrukker uitgedruk MAAK haar dag.

Tog moet jy weet dat daar SOVEEL oggende is wat ek vir my kinders 'n marmite broodjie maak met die laaste korsie en dan R20 in die hand stop om iets by die snoepie te gaan koop. We’re all human!"

As jou kinders nie huiswerk of sport doen nie, waarmee hou hulle hul self besig tuis? Wat speel hulle of is kinders van 10 jaar al te 'cool' om nog buite te speel?

"Ons is vreeslik gelukkig om in 'n velige omgewing te woon. Albei my kinders hou van skateboard ry.  So na huiswerk is dit hulle gunsteling-aktiwiteit… naas X-BOX!  Ai, die beperking op screen-time bly 'n ewige stryd in ons huis! Tog is daar deesdae min tyd in die week vir speel. Ná skool, buitemuurs en huiswerk is die dag omtrent verby. Ons het nie 'n televisie nie (behalwe die een vir X-Box) so in die aande speel ons gesin Cluedo of Poker in die winter en in die somer skop ons bal of surf of gaan loop langs die strand – dit word mos laat donker hier."

Hoe maak jy en jou man vir mekaar tyd tussen deur jul werk en die kinders?

"Ons het elke tweede week date night op 'n Woensdagaand. Ons hou baie van teater, of gaan eet uit.  Ek kan regtig die ‘Entertainer’ App aanbeveel – ons eet altyd vir halfprys!"

Wat het ouerskap julle tot dusver geleer?

"Ouerskap het my geleer om minder geheg te wees aan planne en meer in die NOU te leef."

Watse raad het jy vir donker kringe onder die oë?

"Ek het geen raad vir donker kringe nie… Seker maar net 'n glimlag! Ons almal is mense en ons almal raak moeg. Take it in your stride. Smile and wave."

Vertel ons kortliks meer van jou boeke en waarmee jy besig is. En wat het jou geïnspireer om dit te skryf?

"Ek het twee kinderboeke op die rak: Pieter Kokkewieter en die Hart op sy Mou en Hetta Elizabetta en die Wêreld op haar Skouers. Ons is tans besig om dit te vertaal na Engels. Die Braille weergawes is reeds beskikbaar. Dan skiet ek ook nou aan die nuwe TV reeks ‘Waterfront’ en werk aan my solo-vertoning wat hierdie jaar by Aardklop debuteer."

Read 285 times
Don't have an account yet? Register Now!

Sign in to your account