Mandi Baard gesels oor ouerskap...#moomieceleb Featured

Die akrise en tv-aanbieder, Mandi Baard, deel haar ma-wees stories met Moomie. 

Het jy ‘morning sickness’ gehad gedurende jou swangerskappe? En wat is jou raad daarvoor?


Met Jeandré se swangerskap was ek slegs vir so twee weke bietjie naar. Ginger ale het nogal baie gehelp. Sumé se swangerskap was 'n ander ball game. Ek was tot op 17 weke naar en min het gehelp. Ek het maar probeer om so gereeld as moontlik te snack - dit het soms die naar so effe verlig. Hou maar snacks soos cream crackers ens. by jou om te nibble.

Deel met ons jou swangerskap geheim (soos bv, craving vir snaakse goed of huil oor simple goed)?


Voor ek met Jeandré swanger geraak het, het ons vir jare KI's, IVF gedoen . Ek moes dus baie medikasie gebruik wat my hormone konstant omvêr gegooi het. Toe ek dus met Jeandré swanger raak, was dit glad nie vir my 'n reuse "hormonale-aanpassing" nie en Schalk het altyd gesê ek was die maklikste swanger vrou. Met Sumé was ek egter op geen hormonale medikasie nie en aangesien sy ons "verras" het, het die swangerskap hormone my baie meer geaffekteer. Ons was in die vliegtuig op pad Switzerland toe om te gaan ski, toe ek sooooo geïriteerd was. Ek het op daardie stadium gedink ek kan vir Schalk (vir geen rede) met my kaal hande verwurg. En na die tyd sou ek hoor hoe hy gedink het sy vrou was effe (of baie) mal. Dit was 'n reuse verliging toe ons uitvind daar was 'n "rede" vir my waansinnige optrede.

Hoe het jy jou oudste voorberei op die nuwe baba (boetie/sussie) wat oppad is?


Ons het hierdie een baie deurdink aangesien Sumé se swangerskap ons verras het toe Jeandré slegs 16 maande oud was. (Ons het vir baie jare gesukkel om swanger te raak, so dit was dié keer 'n aangename verrassing). Ons het hom vroegtydig in 'n bedjie gesit en in sy eie kamer. Ons het seker gemaak dat ons sy kamer ens. ook baie spesiaal maak en alle veranderinge (wat baba sou oorneem) vroegtydig doen, sodat hy nooit die konnetasie met Sumé gemaak het en jaloers op haar raak nie. Toe Sumé eers hier was, het ons ook baie seker gemaak dat ons nog spesiale oomblikke met hom ALLEEN het en wanneer ek nie vir Sumé gevoed het nie, het ek haar vir Schalk of Josephine gegee sodat ek met Jeandré kon speel. Behalwe vir Sumé wat ook (nes Jeandré) vreeslike reflux en koliek gehad het, was ons oorgang baie maklik en is ons baie dankbaar.

Gee so bietjie raad vir vir mense wat vir die tweede keer ouers word.


Wees RUSTIG!!! Geniet die chaos . Probeer so gou as moontlik 'n tipe "roetine" uitwerk, veral in die aand sodat dit nie oorweldigend raak nie. Gebruik jou mense en aanvaar hulp. Dit maak van jou 'n beter ouer wanneer jy ook bietjie kan rus.

Hoe hanteer jy 'n tantrum van jou kleuter in die publiek?


Haha - Jeandré het bitter min tantrums gegooi, maar Sumé is nou vir ons 'n rude awakening. Met die dat Sumé in Sept eers 2 word, is ons nog besig om uit te figure. Soms wil ek wegloop en maak of ek haar nie ken nie, maar oor die algemeen, vat ons die kinders weg en hanteer dit waar die mense nie kan hoor of sien nie.

Watter metode van dissipline werk vir jou kinders?


Ek dink kinders se verskillende persoonlikhede gaan dissipline metodes laat verskil. Op die stadium werk 'n mate van 'n "time out" / "stoute hoekie" so bietjie met Sumé - sodat sy kan besef dat daar 'n "strafvorm" in plek is. Met Jeandré wissel ons tussen die robot-sisteem en iets wat dan weggeneem word, die marble jar & time out. Dis makliker met Jeandré oor ons al kan gesels en redeneer. Ons gee ook 'n raps wanneer dit nodig is! Ek dink wel die belangrikste is om KONSTANT te wees en ook deur te voer. As jy iets sê, moet jy dit doen, anders gaan hulle jou baie gou begin manipuleer.

Het jy enige boereraad vir brandboudjies?


Ek weet nie soseer van 'n boereraad nie, maar die Skinsano se boudroom werk vir ons soos 'n BOM!!!

Watse kattekwaad het jy as kind aangevang wat jy liewer nie sal wil hê jou kinders moet doen nie?


Haha - ek kon nogals stout wees, maar ek glo dit was altyd 'n "soet-stout". Ons het wel so nou en dan bietjie skool gebank en ek het selfs my oudste broer gekry (moes hom met 'n McD's meal omkoop) om vir my 'n brief te skryf vir 'n doktersafspraak (wanneer my ouers nie daar was nie) en my dan by die skool te kom haal .

Hoe hou jy jou kinders besig oor naweke?


Ons speel baie - hetsy dit buite op die klimraam, fietsies of in pophuis is, of binne in die huis met verf, klei ens. Ons hou van pretend speel en ek moet bieg, Jeandré en Sumé is beide op 'n ouderdom waar hulle saam met mekaar kan speel en mekaar kan besig hou. Dus is dit meestal vir my baie maklik.

Jou gunsteling winkel waar jy jou kinders se klere koop?


Ackermans, PEP & Cotton On se sale.

Wat het ouerskap jou tot dusver geleer?


Geduld! Ouerskap leer jou soveel van jouself. Jy ontdek eienskappe en sterk punte waarvan jy nooit eers bewus was nie. Alhoewel ek 'n Baby Love-slaapkonsultant is en my kinders dus in 'n baie goeie en gesonde roetine is, het ons al bitter min geslaap agv. Sumé wat baie probleme met haar oortjies het. Ek het nooit besef dat ek steeds sal kan funksioneer met so min slaap nie . Maar bowenal het ouerskap my die ware betekenis van ONVOORWAARDELIKE LIEFDE geleer.

Hoe het jou man die geboorte van julle kinders ervaar?


Dit was vir hom besonders. Jeandré was 'n noodkeiser op Vrydag die 13de op sy pappa se verjaarsdag. Hierdie twee deel nie net 'n verjaarsdag nie, maar ook baie karaktereienskappe, wat hulle band ekstra spesiaal maak. Pappa en dogter verhouding is seker een van die mees kosbare verhoudings wat daar is, so dis die lekkerste lekker om vir Schalk en Sumé dop te hou! Hy was ongelooflik trots toe hy elkeen van ons lyfies vir die eerste keer vasgehou het. Die uitdrukking op sy gesig was absoluut PRICELESS en baie kosbaar.

Hoe maak jy en jou man tyd vir mekaar?


Ons probeer op date nights gaan - dis soms moeilik met Schalk se werk, aangesien hy laat by die huis kom. Verder sal ons 'n punt daarvan maak om die kinders elke nou en dan by sy ma hulle of maatjies te laat speel sodat ons kwaliteittyd het. Ons glo in 'n vaste slaaptyd roetine. Ons kinders is 19:30 in die aande in die bed, so behalwe dat dit vir hulle gesond is om genoeg slaap in te kry, gee dit vir my en Schalk tyd om in die aand bietjie saam te kuier!!

Photo credit: Nadia du Toit Photography 

Read 123 times
Don't have an account yet? Register Now!

Sign in to your account