AnnaEmm, skrywer en ma....#moomieceleb Featured

Die baie gewilde skrywer, Anna Emm gesels met Moomie oor ma-wees

Anna, vertel ons kortlik 'n bietjie meer van jouself.

Ek is 'n skrywer en ook die stigter en CEO van Anna Emm Uitgewers. Ek woon saam met my man, Stefan, en twee dogters Elanie (17) en Mila (6) in Kaapstad.

Hoe het jy vir Elanie voorberei op die nuwe baba wat in die huis gaan wees?

Ek het Elanie uit 'n vorige huwelik gebring, so Mila is haar halfsussie. Sy was 11 toe Mila gebore is en ons het van die begin af besluit om haar nie ons default babysitter te maak nie. Ons het dus glad nie van haar verwag om te help met die baba nie, maar moeite gedoen om te verseker dat haar lewe en die dinge waarmee sy besig is, kan voortgaan soos normaal. Sy kon teen haar eie spoed en soos sy gemaklik voel, betrokke raak. Ek onthou my man het ook uitgegaan die dag toe Mila gebore is en vir Elanie 'n MP3 player gekoop - een wat sy tot vandag toe nog gebruik. Dit was iets wat haar kon besig hou wanneer ons besig was met die baba. Ek dink omdat ons nooit daardie verhouding geforseer het nie, is Elanie en Mila vandag baie na aan mekaar. Ek sien so dikwels in ander huis waar halfsussies of -boeties onder emosionele druk van die ouers is om die nuwe baba te aanvaar. Dis vir hulle moeilik, veral aangesien hulle ook dikwels vanuit die ander ouerhuis dan weer jaloesie kry. Ek glo daarin dat ons as ouers verantwoordelik vir ons eie keuses moet staan en nie van kinders verwag om met grootmense se issues te deal nie. Dit was vir my en Stefan baie belangrik om Elanie se childhood in eie reg ook te beskerm.

Watter invloed het die ouderdomsverskil op die twee sussies?

Hulle is eintlik baie geheg aan mekaar, veral soos Mila ouer word. Maar die feit dat hulle in verskillende ontwikkelingsfases van hulle lewens is, maak dit dikwels moeilik om te bestuur in die huis. Elanie begin saans uitgaan en Mila moet vroeg gaan slaap. Mila moet soggens vroeg skool toe en Elanie studeer van die huis af. Kinderpartytjies met 'n huis vol kinders, tienerpartytjies met 'n huis vol tieners. Maar die feit dat sy 'n heelwat ouer sussie het, het beslis Mila se kommunikasie-vermoëns, volwassenheid en onafhanklikheid beïnvloed. Sy copy vir Elanie.

Watter metode van dissipline werk vir jou kinders?

Elanie is baie verantwoordelik en onafhanklik. Sy wil graag die regte ding doen. So met haar help dit om te gaan sit en die gevolge van haar aksies te bespreek, om te verduidelik waarom ons ongelukkig is of nee sê vir sekere goed. Mila weer, het 'n baie sterk wil. Sy gee nie regtig om of jy ongelukkig is met haar nie. Maar sy is baie bang vir 'n pakslae. En incentives werk baie goed vir haar wanneer ons 'n nuwe habit wil vestig.

Op watter ouderdom voel jy mag kinders tablets en selfone kry?

In ons huis was die selfoon 'n veiligheidsmaatreël omdat Elanie vir so lank 'n alleenkind was. Ook omdat sy naweke by haar pa gaan kuier het en ek wou hê sy moet my kon kontak wanneer sy wou. Ons kinders werk van vroeg af met selfone, rekenaars en tablets - veral aangesien my man 'n programmeerder is en die tegnologie ons hele huis vol lê. Ons het egter streng reëls oor die hoeveelheid tyd wat hulle daarop spandeer en wat hulle daarop doen. Dit word streng gemonitor. Ons kan nie ons kinders sonder tegnologie grootmaak nie, want dan gaan hulle 'n agterstand by die wêreld hê. Ons fokus is om hulle te leer om dit verantwoordelik te gebruik en om die newe-effekte daarvan te kan besef en herken. Hulle moet hulself kan bestuur eendag.

Gee vir ons voorstelle vir die kosblik.

Albei my kinders was baie puntenerige eters met streng versoeke rondom wat ingepak word skool toe. Mila eet op die oomblik net peanut butter-broodjies en sy wil net water in haar botteltjie hê - niks anders nie. Dis lekker maklik. Elanie het baie gou al begin om haar eie kosblik te pak soggens. Die skole was gelukkig altyd streng daaroor dat daar nie lekkers of chips of koekies mag saamgaan skool toe nie.

Deel met ons jou gunsteling resep wat kinders ook lekker vind.

In ons huis maak almal kos. Ons is lief vir eenvoudige disse wat min moeite is en vinnig voorberei. Ons braai ook baie graag - sommer in die middel van die week. Ek en Stefan kom laat by die huis, so teen daardie tyd is almal al rasend honger. Ons probeer egter gesond eet. Dikwels stir fry's, wors en groente, vis of hoender in die oond. Dis 'n groot treat wanneer ons chicken burgers maak en elkeen kan opsit waarvoor hy lus is - tamatie, komkommer, kaas, sampioene, slaai, ens.

Hoe maak julle as gesin tyd vir mekaar?

Naweke gaan loop ons graag in die winkels rond. Dan kan die kinders na speelgoedwinkels of boekwinkels gaan en wys waarvan hulle hou, en ons eet dan ook altyd saam iewers by 'n lekker restaurant. Ons fliek graag, alhoewel dit nou deesdae baie duur geraak het. Onlangs het ons vier ook 'n gesamentlike liefde ontdek vir resieskarre. So, ons was al 'n paar keer as gesin Killarney toe. Dan pak ons 'n piekniekmandjie en gaan kyk karre vir die dag. Omdat die kinders se ouderdomme so verskil, is dit soms moeilik om iets te kry waarin almal belangstel.

Deel met ons idees vir gekenke om vir sesjarige dogtertjies en tieners te koop?

Elanie verdien al van 12 jaar af haar eie geld deur illustrasies vir uitgewers te doen, so sy koop haar eie klere en luxuries. Vir haar kan jy niks beter gee as 'n shopping voucher by 'n boekwinkel nie. Sy is mal oor boeke. Mila hou ook daarvan om haar eie geldjie te kan vat en self te gaan uitsoek wat sy wil hê. Maar 'n groot gunsteling is steeds sagte speelgoed (sy het 'n lywige versameling!) en Lego.

Wat is jou gunsteling winkel om by te shop?

Ek koop graag DVDs... So ek hou daarvan om in Musica rond te snuffel of om aanlyn by Takealot flieks en reekse te koop. Ek koop ook van kleins af graag skryfbehoeftes. Al het ek dit nie altyd nodig nie.

Wat is die verskil tussen tiener moods en terrible two's?

Ek dink dit gaan maar oor jou kind se persoonlikheid. Elanie is baie stil en emosioneel. Sy dink baie oor goed en klein goedjies raak dikwels in haar kop groot goed. Sy is vol draadwerk. So, sy was 'n maklike, soet en rustige kind, maar sy is 'n gekompliseerde tiener met baie vrae en wroeginge. Mila weer, is straigt forward. What you see is what you get. Sy is 'n moeilike kind in die sin dat sy altyd jou aandag soek, gou verveeld raak, hard baklei en altyd 'n maatjie wil hê. Maar ek vermoed sy gaan 'n makliker tiener wees omdat dinge vir haar redelik swart of wit is.

In watter opsig is jou dogters dieselfde as jy?

Elanie is 'n fyn waarnemer van mense - iets wat ek en sy as kunstenaars deel. Ons sien dinge raak wat ander mense nie raaksien nie. Mila challenge weer sisteme, swem graag stroomop en baklei hard om gehoor te word. Dis iets waarmee ek as entrepreneur kan vereenselwig. Ek dink sy het dalk meer van my persoonlikheid as Elanie, maar beide my dogters is unieke mense in eie reg. Ek vergelyk hulle nie met myself of met mekaar nie.

Wat is jou raad vir ouers met tieners?

Wees eerlik met jou tiener. Moenie doekies omdraai nie. Sê dit soos dit is. Dit is jou laaste kans voordat hy/sy die grootmenswêreld betree om hom/haar voor te berei. Dis nie nou die tyd vir sugar coating nie. Wees eerlik oor jou eie struggles en emosies. Moenie probeer perfek wees nie - jou tiener weet jy is nie. Hulle moet sien dis oukei om nie perfek te wees nie en dit sal hulle die vryheid gee om ook gemaklik met jou oor hulle eie vrese en foute te kan praat.

Wat is 'n ma?

Goeiste, dis 'n vraag wat soveel interpretasies kan hê. Vir my is ma-wees net 'n deel van vrou-wees, en vrou-wees is net 'n deel van méns-wees. Om 'n ma te wees is maar net een van die dinge wat ek doen en wie ek is, dit define my nie. Ek probeer vir my dogters leer dat hulle kan wees wie hulle wil wees, kan word wie en wat hulle wil word - al ís hulle 'n ma of al is hulle nooit 'n ma nie.

Waarmee is jy tans besig?

Honderde duisende dinge gelyk. Haha! Ek is besig om te skryf aan 'n nuwe reeks boeke waarvan die eerste een in September vrygestel word. Dan is ons ook besig om 'n hele paar nuwe Anna Emm-franchises in winkelsentrums regoor die land oop te maak, wat baie van my tyd en aandag in beslag neem. Ek het sewe skrywers onder my wie almal besig is met boeke van hulle eie en wie ek mentor, en ons het tans meer as 500 agente regoor die land wat by ons bestel op 'n daaglikse basis. So die kantoor is besig. By die huis is Elanie besig met haar bestuurslisensie en Mila is besig om reg te maak vir Graad 1 volgende jaar. Ons hardloop behoorlik rond. - Alta van Wyk

Besoek gerus Anna Emm se webtuiste hier om te sien waarmee sy besig is. 

 

Read 446 times
Don't have an account yet? Register Now!

Sign in to your account