Moomie-pa van die week ... Morné Jacobs Featured

Morné (32) is die trotse pa van Luné (3.5) en Zara (1.7).

Hoe het jy gevoel toe jy hoor jy word vir die eerste keer pa?

Bevoorreg en gesëend dat die Here vir my en my vrou gekies het om ouers te kon word. Dit was ’n droom wat waar geword het.

Waarmee help jy in die huis as dit kom by die kinders?

Ek en my vrou verdeel al die huistake tussen ons. Ek is die selfaangestelde kok in die huis. Ek maak aandete en ontbyt vir die meisies, was skottelgoed en help om hulle skooltassie reg te kry vir die volgende dag. Ek sit handjie by wanneer hulle gebad word en trek hulle aan. Ek ruil selfs vuil doeke om. Ons probeer ook tyd maak vir bietjie dans en sing.

As jy vinnig 'n doekesak moet pak, sonder jou vrou se hulp, wat sal jy daar insit?

Doeke, boudsalf en wipes, ’n spoegdoek, ’n stel skoon klere en ook warm klere. Nurofen/Calpol vir koors, koorspen, melkbottel, formulemelk, ’n peuselhappie vir die moeilike tye.

Wat is jou definisie van terrible twos?

“Wanneer twee van jou meisies terrible is met mekaar,” lag Morné.

 Op ’n ernstige noot dink ek dis ’n periode waar jou kind meer eiewys raak en natuurlik hierdie nuwe wysheid op die proef wil stel. Dit is deel van grootword. Hoe jy dit as ouer hanteer, het ’n groot invloed op beide ouer en kind. Kinders moet toegelaat word om kind te wees.

Watse metode van dissipline werk vir jou kinders?

Wanneer daar ’n klomp maats is, werk hoekietyd (time-out) die beste. By die huis moet ’n mens strenger en fermer wees. ’n Goeie pak slae op die regte tyd is wel nodig. Dit is beslis nie vir my lekker nie, maar dit is belangrik om van kleins af die regte fondasie te lê.

Beskou jy jouself as ’n streng pa/kwaai pa?

Nee, glad nie. Ek is die good cop in ons huwelik en is die een wat meeste van die tyd troos. Ek sê meeste van die tyd, aangesien daar tye is wat vra dat ek ferm moet wees.

Sonder einge hulp, wat beteken die volgende terme:

Babymoon: ’n Kort breuk voordat die baba gebore word.

Baby blues: Die verlange wat ’n vrou ervaar om weer swanger te wees wanneer jou kind nie meer ’n “baba” is nie.

Vroedvrou: ’n Persoon wat jou vrou en vir jou ondersteun tydens die swangerskap. Sy kan ook in sekere gevalle help met ’n natuurlike geboorte.

Hoe maak jy en jou vrou tyd vir mekaar?

Ons het twee keer ’n maand ’n date night wanneer Ouma na die kinders kyk. Ek en my vrou probeer dit dan so opwindend moontlik maak. In die aande wanneer die kinders slaap, hou ons daarvan om series te kyk.

Wat is jou wens vir jou dogters?

Dat hulle my sal sien as ’n pa wat betrokke is in hulle lewens. Een wat belangstel in hulle en wat hulle ondersteun in hulle besluite. Verder wens ek dat hulle die voorbeeld wat vir hulle gestel word en die liefde wat vir hulle gegee word sal oordra aan ander. Dat hulle goeie kinders sal wees wat vir mekaar en hulle medemens sal omgee. Laastens wens ek ook dat hulle daarna sal streef om suksesvol te wees, maar ook hard sal werk om hulle doelwitte te bereik.

In watter opsig is jy en jou dogters dieselfde?

Albei my dogters is baie uitgesproke en het ongelooflike selfvertroue - mense weet wanneer hulle ’n vertrek binnestap.

Wat is die beste ding van ouerskap vir jou?

Die drukkies en soentjies wat ek uit die bloute kry. “Ek is lief vir jou, Pappa,” wat hulle in my oor fluister. Meer eerlike en opregte liefde as dié van kinders kry jy nie. Dit laat my hart smelt.

Wat is ’n pa?

’n Pa is die vlerke wat sy kinders en vrou moet omvou en so ver moontlik beskerm teen al die sleg. ’n Pa is die persoon wat handeviervoet sy kinders in die huis rondjaag, saam met hulle wegkruipertjie speel. Hy moet waak oor sy kinders wanneer hulle siek is. En heel belangrikste van pa-wees is om jou kinders se ma (jou vrou) te help en te ondersteun. It takes two to tango. Ek voel baie sterk dat ’n pa net soveel verantwoordelikheid het soos ’n ma. Ek is ’n pa en ek is trots daarop. – Alta van Wyk

 

Read 250 times
Don't have an account yet? Register Now!

Sign in to your account