Ma van die week....Sahre Engelhoff Featured

Sahré Engelhoff se sésde baba is op pad. Sy is 'n tuisbly-mamma wat baie uitsien na die nuwe boetie.

Vertel ons 'n bietjie meer van jouself?


My naam is Sahré Engelhoff (voorheen Hoffman, in die proses om ons van te verander). Ek is baie gelukkig getroud, al 10 jaar, met my beste vriend en sielsgenoot. Pierre-Uys Engelhoff. Ek word Oktober vanjaar 36 jaar oud en is tans 36 weke en drie dae swanger met ons sesde engeltjie.

Werk jy of is jy 'n tuisbly-mamma?


Ek is 'n tuisbly-mamma. Dus werk ek 24 uur 'n dag, sewe dae 'n week, 365 dae 'n jaar. Sonder enige verlof (of siekverlof) en geniet elke liewe oomblik daarvan. Om by die huis te kan bly en na my kinders om te sien is een van die grootste seëininge wat ek kon ontvang. 'n Wonderlike voorreg.

Hoe oud is jou kinders? Dogtertjies of seuntjies?


Met 'n boetie oppad, het ons drie seuns en drie dogters! Ons voel uiters geseënd om drie van elk te mag hê, dis vir ons nogals besonders uniek en spesiaal. Ouboet is nege, Ousus is agt, middelste sussa is ses, middelste boeta is amper vier, kleinsus is twee en kleinboet wat nou enige tyd by ons kan aansluit.

Hoe oud was jy toe jou eerste kind gebore is?


Ek was 25 jaar oud.

Het jy nog altyd gevoel jy wil graag baie kinders hê?


Aanvanklik het ons besluit op vier. Toe kry ons 'n vyfde "verrassingspakkie". Besluit toe dat ons balans nou "uit" is en vir nog 'n boeta moet probeer. Ons het gebid, die Here gevra en ons gebede is verhoor en ons hartsbegeerte is vervul.
 
Hoeveel normale geboortes het jy gehad en hoeveel keisers?


Ek het sover vyf normale geboortes gehad. Die laaste een was 'n watergeboorte, by You & Me in Bloemfontein. 'n Wonderlike ervaring saam met 'n fantastiese vroedvrou. Hopelik as God dit so beskik en wil, gaan boetie se geboorte ook 'n normale watergeboorte wees. Ek sien vreeslik baie uit daarna.

Borsvoed jy jou kinders?


Ja, ek borsvoed. Dis vir my 'n uiters spesiale ervaring. Ek streef daarna om vir my kinders altyd die beste moontlik te gee en borsvoeding is volgens my die beste.

Het julle 'n ondersteuning-sisteem? Ouers wat dalk help met die kinders.


Nee. Ons is maar 'n gesinnetjie op ons eie. My ma woon baie ver weg en is ook baie siek, my pa is nou ameper vier jaar gelede skielik oorlede. My man se ouers en broers stel glad nie belang in ons of ons kinders nie, hulle voel dis vir hulle 'n vernedering dat ons so baie kinders het. 'n Jammerte, maar dis hulle keuse en verlies.

Watter metode van dissipline werk vir jou kinders?


Oor die algemeen sukkel ons nie te veel met dissipline nie. Een keer praat of mooi vra, dan begin mamma tot vyf tel. Omdat hulle persoonlikhede so uiteenlopend is, gun ons hulle kans om hulle kant van die saak te stel voordat ons 'n gepaste "straf" vir die situasie toeken. Wat vir die een werk, werk nie noodwendig vir die ander nie, daarom moet mens maar oopkop wees en heel buigbaar.

Hoe maak jy en jou man tyd vir mekaar?


Eerlikwaar is daar maar min kwaliteittyd saam. Ons verkies in elk geval om ons tyd saam met die kinders te spandeer, dis vir ons uiters kosbaar. Een van die dae is hulle groot en uit die huis, dan gaan ons nog verveeld raak met mekaar se geselskap.

Wil julle nog kinders hê?


Ek glo nog altyd 7 is die volmaakte getal, maar my man wil nog nie lekker "byt" daaraan nie. En natuurlik gaan die balans weer "uit" wees en dan gaan ons moet probeer vir nommer agt.

Vertel ons kortliks wat is julle daaglikse roetine? Van op staan, kinders reg kry vir skool, skool toe gaan, werk toe gaan, middag aktiwiteite, aandete, badtyd, slaaptyd.


Opstaantyd is 05:15. Terwyl ek ontbyt voorberei, maak my drie oudste kinders en my man reg vir skool en werk, ek los die kleintjies om nog so bietjie te slaap. Na ontbyt vertrek hulle so 06:45 skool en werk toe en dan is dit my en die kleintjies se kwaliteittyd en die huiswerk begin. Die res van die spannetjie sluit weer so 13:15 by ons aan, ons eet gou middagete voor Pappa weer terug gaan werk toe en die kinders gou hul huiswerk vir die dag doen. Daarna gee ek hul vrye teuels om hul kreatiwiteit uit te leef, te speel en net kind te wees. Aandete is rondom 18:00 en badtyd daarna. Ons raak dan rustig vir stiltetyd en slaaptyd om 20:30. Ek en my man ruim dan gou op wat nodig is, gaan bad en slaap so vinnig en vroeg as wat ons kan.

Hoeveel ure slaap jy in die aand?


Dis maar baie wisselvallig. Tog probeer ek om nie minder as ses ure te slaap nie, anders wil die ou brein nie altyd lekker saamwerk nie. Nou nie so seker hoe dit gaan gaan met die nuwe mannetjie in die huis nie, hopelik is hy sy Mamma genadig en slapies soet.

Wat is jou raad vir roetine aan ander ma’s wat meer as drie kinders het?


Moenie dat die samelewing druk op jou plaas nie. Kry 'n roetine wat vir jou huisgesin werk, waarmee julle gemaklik is en hou daarby. Elke huishouding is uniek en weereens, wat vir die een werk, werk nie noodwendig vir die ander nie.

Kry jy ooit tyd vir jouself? En wat doen jy graag?


Ek geniet dit om net in die tuin te sit, my oë toe te maak en die "stilte" van die natuur te ervaar. Dit kan nogals lawaaiering raak. As ek regtig alleentyd wil hê, gaan hang ek wasgoed op.

Kinders se oulike se-goed, kan ouers soms in die verleentheid stel, was jy al in so situasie? Deel dit asb met ons:


Sjoe, baie bekkies, baie sê-goed. Kan nou nie juis aan iets spesifieks dink nie, maar dit het al baie gebeur dat ons van iets of iemand praat en terwyl mens in die geselskap sit, sal hulle dit ewe ernstig oorvertel. Dan voel mens die aarde moet jou tog net insluk. So pasop maar wat jy sê terwyl jy so baie "sponsies" in die huis het.

 

Read 71 times
Don't have an account yet? Register Now!

Sign in to your account